Gereformeerde Kerk Odendaalsrus

Van Den Heever Street, Odendaalrus, 9480 ,South Africa
Gereformeerde Kerk Odendaalsrus Gereformeerde Kerk Odendaalsrus is one of the popular Christian Church located in Van Den Heever Street ,Odendaalrus listed under Church/religious organization in Odendaalrus ,

Contact Details & Working Hours

More about Gereformeerde Kerk Odendaalsrus


Die Gereformeerde Kerk Odendaalsrus –
ʼn kort bekendstelling
Baie welkom by die Gereformeerde Kerk Odendaalsrus.
Jy sal dalk meer wil weet oor wie ons is en waarom ons kerk hou op die manier waarop ons dit doen. Die bedoeling van hierdie inligtingstuk is om kortlik iets oor ons identiteit en karakter met jou te deel. As jy meer wil weet, is jy baie welkom om met ons dominee te skakel. Hy sal met graagte enigiets met jou bespreek waaroor jy meer wil weet. Maak gerus kontak deur ons Facebook blad
Wie is ons?
Ons oorsprong en verspreiding
Die Gereformeerde Kerk Odendaalsrus is ʼn selfstandige kerk wat deel is van ʼn groep kerke wat hulself die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) noem. In ons kerkverband is daar kerke wat dwarsdeur Suid-Afrika en ook Namibië versprei is. As Gereformeerde Kerke het ons bande met Reformatoriese kerke dwarsoor die wêreld (onder andere, VSA, Kanada, Brasilië, Brittanje, Nederland, Kongo, Zimbabwe, Suid-Korea, Japan, Australië en Nieu Zeeland.)
Alle Gereformeerde Kerke trek hul wortels terug na die Groot Kerkhervorming in die 16de eeu in Europa. Die begrip “gereformeerd” beteken “terug na die Bybel”. Dit was en bly steeds die strewe van Gereformeerdes om onsself gedurigdeur aan die Bybel te toets en steeds reformerend te bly. Dit beteken dat ons voortdurend onsself afvra: “Wat sê die Here in die Bybel?” En dan streef ons daarna om die Here so getrou moontlik, volgens die eis van die dag, aan die hand van die Bybel te dien.
Wat ons glo
Ons belydenisskrifte
Gereformeerde Kerke word saamgebind deur die aanvaarding van veral 3 belydenisskrifte wat hul ontstaan in die 16de eeu gehad het. Hierdie 3 belydenisskrifte is:
• Die Nederlandse Geloofsbelydenis
• Die Heidelbergse Kategismus
• Die Dordtse Leerreëls
Ons is daarvan oortuig dat hierdie belydenisskrifte die belangrikste geloofsake wat die Here in die Bybel openbaar, duidelik saamvat. Daarom doen ons baie moeite om hierdie belydenisskrifte te bestudeer (en te leer ken). Terselfdertyd toets ons ook telkens weer die inhoud van hierdie belydenisskrifte aan die Bybel.
Indien jy graag hierdie belydenisskrifte wil lees – hulle is agter in ons psalmboeke te vind. Doen gerus navraag.
Die 5 Solas
Ons kan ook op ʼn ander manier na ons identiteit verwys. As Gereformeerdes hou ons ook vas aan die sogenaamde “5 Solas”. Hierdie “solas” is kort kernagtige slagspreuke wat ons karakter beskryf. Die oorspronklike formulering daarvan was in Latyn. Die Afrikaanse vertaling word telkens agterna gegee:
• Sola gratia – Alleen genade
Ons weet ons verdien uit onsself niks voor die Here nie. Dit is alleen deur sy genade dat ons tot redding kom.
• Sola Fide – Alleen geloof
In sy genade wek die Here geloof in ons sodat ons ons tot Hom kan bekeer. Deur die geloof wil ons nou gehoorsaam aan Hom lewe.
• Sola Christo – Alleen Christus
Die geloof wat die Heilige Gees in ons wek is geloof in Jesus Christus. Alleen sy verdienste aan die kruis maak dat ons sonde vergewe word. Alleen deur Christus kan ons kinders van die Here wees.
• Sola Scriptura
In sy genade maak die Here dit moontlik dat ons Hom kan ken. Hy het Homself voldoende in die Bybel aan ons bekend gemaak. Buiten die Bybel het ons geen verdere openbarings/bekendmakings van die Here nodig om voor Hom te lewe en sy kinders te wees nie.
• Soli Deo Gloria
Wanneer ons uit genade, in geloof in Jesus Christus volgens die Bybel lewe, leef ons tot eer van die Here. Ons hoogste doel en strewe hier op aarde is om tot eer van die Here te lewe.
Ons kerklike funksionering
Ons kerkbestuur
As Gereformeerde glo ons dat Christus die Hoof van sy kerk is. Daarom glo ons dat Hy ook die Hoof van die Gereformeerde Kerk Odendaalsrus is. Hy regeer sy kerk deur sy Woord. In die Bybel vind ons dus die beginsels waarvolgens Hy sy kerk wil bestuur. Daarom probeer ons alles wat ons doen in gehoorsaamheid aan die Bybel, en volgens Bybelse beginsels, doen.
Ons glo dat die Here ouderlinge as opsieners in die kerk aanstel. Die ouderlinge (saam met die dominee) hou dus toesig oor die kerk en streef daarna om die kerk so te lei dat die kerk doen van Christus van ons vra.
Saam met die ouderlinge is daar ook diakens in ons kerk. Die diakens bestuur die liefdesdiens in die gemeente. Hulle sien toe dat die gemeente as liefdesgemeenskap funksioneer.
Elke lidmaat van ons gemeente is ʼn wyk ingedeel. Elke wyk het ʼn ouderling en diaken. Ons strewe daarna dat elke ouderling en diaken gereeld huisbesoek doen. So hou ons goeie kontak met mekaar en kan ons as gemeente van Christus mekaar vinnig en daadwerklik bystaan.
Ons eredienste
As Gereformeerdes wat altyd gehoorsaam aan die Bybel wil wees, is dit vir ons belangrik dat ons eredienste volgens Bybelse beginsels moet verloop. Die belangrikste beginsel is dat ʼn erediens nie ʼn vertoning is waar mense vermaak word nie, maar dat ons waarlik die Here in aanbidding ontmoet. In hierdie ontmoeting met die Here
moet ons Hom eer. Hy moet die sentrum wees van alles wat ons doen.
En moet ons Hom dien. Ons onderwerp ons aan Hom. Ons luister na Hom. Ons doen wat Hy vir ons ons sê en nie wat ons wil doen nie.
ʼn Erediens is ook nie ʼn geleentheid waar net enkele mense die Here aanbid (bv. ʼn aanbiddingsleier en aanbiddingspan) en die res toeskouers is nie. ʼn Bybelse vereiste vir ʼn erediens is dat ʼn erediens ordelik moet verloop, want God is ʼn God van orde (vgl. 1 Korintiërs 14) en almal moet deelneem. Dit is immers die gemeente wat gesamentlik die Here aanbid.
Hoe kry ons dit reg om die hele gemeente gesamentlik te laat aanbid? Ons streef daarna om dinge in die erediens gesamentlik te doen. Ons sing gesamentlik. Ons bid gesamentlik (die bidder gebruik nie die woord “ek” nie, maar “ons”), ons luister gesamentlik.
ʼn Ontmoeting met die Here beteken ook dat daar ʼn gesprek tussen ons as gemeente, en Hom as ons Here, is. Ons eredienste word so ingeklee dat daar ʼn dialoog tussen God en gemeente is. Hy praat (Skriflesing, prediking ens.) en ons luister en daarna praat ons weer op ons beurt (gebed, sang, liefdegawe ens.). Hierdie dialoog karakter gee ʼn dimensie aan ons erediens dat ons nie maar net vir die Here “optree” nie, maar dat Hy in ons teenwoordigheid is, en dat Hyself ons voed, vertroos, vermaan en aanmoedig om met ons oog gerig op Jesus te lewe.
ʼn Laaste saak wat ons moet uitlig oor ons eredienste is die liedere wat ons sing. Ons plaas ʼn hoë premie daarop om liedere te sing wat die Here self vir ons in die Bybel gegee het. Daarom dat ons Psalms en Skrifberymings sing wat niks anders is nie as Skrifgedeeltes wat in liedvorm omgedig is. In die Gereformeerde Kerk Odendaalsrus sing ons ook liedere wat streng deur ons sinodes getoets is om Skrifgetrou te wees.
Katkisasie
Ons beskou ons kinders as volledig deel van die kerk van die Here. Hulle moet egter geleer word om hulle Here te ken, sodat hulle Hom reg lief kan hê. Elke Sondag in die kwartaal (buiten langnaweke en nagmaal) is daar na kerk katkisasie. Tydens katkisasie word geloofsonderrig aan ons kinders gegee.
Terwyl kinders met katkisasie besig is, is ouers hartlik welkom om saam ʼn koppie tee of koffie in die saal te drink en so gesellig met ander gemeentelede te verkeer.
Bybelstudies
Omdat die Bybel vir ons so belangrik is, het ons drie Bybelstudiegroepe waar die Bybel gereeld bestudeer word. Die studies is informeel en dit is nie nodig om voorbereiding vir die studies te doen nie.
Kyk na ons afkondigings om te sien waar en wanneer Bybelstudie plaasvind. Almal (ook nie-lidmate) is hartlik welkom by ons Bybelstudies.
Gemeenteaksies
Deur die loop van die jaar is daar verskillende geleenthede waar ons as gemeente heerlik saam kuier, saam werk, en ook saam lekker dinge doen. Ons probeer gereeld ʼn gemeentekamp hou, ons werk jaarliks saam vleis en ook vir die kinders probeer ons gereeld heerlike aksies reël. Hou gerus die afkondigings dop vir meer besonderhede.
Aansporing
Dankie dat jy tyd gemaak het om hierdie bekendstelling deur te lees. Ons nooi jou weer eens vriendelik uit om met ons dominee te skakel as jy vrae het.
Enigeen wat hom of haar by ons geloofsgemeenskap wil voeg, is baie welkom. Ons glo dat die Here ons hier geplaas het om waarlik ʼn familie van Hom te wees. Enigeen wat deel van ons familie wil word, nooi ons hartlik uit.

Map of Gereformeerde Kerk Odendaalsrus