NG Kerk Wellington Noord - Wellington Noord Geloofsgemeenskap

MacCronestraat 11, Wellington, 7654 ,South Africa
NG Kerk Wellington Noord - Wellington Noord Geloofsgemeenskap NG Kerk Wellington Noord - Wellington Noord Geloofsgemeenskap is one of the popular Religious Organization located in MacCronestraat 11 ,Wellington listed under Church/religious organization in Wellington , Religious Organization in Wellington ,

Contact Details & Working Hours

More about NG Kerk Wellington Noord - Wellington Noord Geloofsgemeenskap

Geskryf deur dr. Pieter Bekker


ONTSTAAN
Die historiese stigting van die N.G. Gemeente Wellington-Noord het ’n lang aanloop gehad. In 1951 het ds. W.A. Alheit van die N.G. Moedergemeente syfers in verband met kerkbywoning aangehaal en beter bearbeiding bepleit. In daardie stadium was daar reeds meer as 2 400 lidmate wat deur twee leraars bearbei moes word . Sommige wyke was te groot en ’n kommissie is deur die Kerkraad benoem om op die saak in te gaan.
Op uitnodiging ontmoet ds. W.A. Landman en dr. H.D.A. du Toit die Kerkraad namens die Ring van die Paarl op 12 Februarie 1952. Hulle is in opdrag van die jongste Sinode afgevaardig om die Kerkraad te spreek in sake meer werkkragte in die Gemeente, of verkieslik afstig-ting. Alhoewel die kerkraad op hierdie tydstip van mening was dat die gemeente nog nie die finansiële las van ’n derde leraar kon dra nie, is die saadjie wat tot afstigting sou ontkiem, tog gesaai, want ’n uitbreidingsfonds word op voor-stel van ds. Alheit gestig. As ’n noodmaatreël sou daar jaarliks vanaf 15 Desember ’n propo-nent vir ses maande aangestel word vir vakan-sietye van die leraars en veral vir die meer intensiewe bearbeiding van die jongmense.
Gedurende die daaropvolgende twee jaar word verskeie moontlikhede met afstigting oorweeg as die uiteindelike ideaal. ’n Kommis-sie wat op 7 Desember 1954 benoem word om die hele aangeleentheid van afstigting of uit-breiding te ondersoek, rapporteer op 12 April 1955 dat
• die lidmate 2 460 tel;
• geen deel van die gemeente ryp is vir afstigting nie;
• die koste aan die aanstelling van ’n derde leraar £2 000 (R4 000) per jaar sal wees as die Gemeente in drie wyke verdeel word.
Geen definitiewe besluit word geneem nie en ds. D.T. du P. Moolman word in die Gemeente ontvang.
In Augustus van hierdie jaar spreek ds. W.A. Landman as lid van die Ringskommissie weer eens die kerkraadsvergadering toe en her-haal dat die Ring besorg voel oor doeltreffende bearbeiding in ’n gemeente wat te groot vir twee leraars is. Hy stel weer afstigting as ideaal, maar meen ook dat die drie wyke-stelsel ’n tydelike oplossing sal bied.
Die indeling van die Gemeente in drie wyke bring mee dat ’n pastorie vir die derde leraar gebou moes word. ’n Erf van mnr. B. van der Merwe word teen £500 aangekoop en ’n tender vir £6 442 vir die bou van ’n pastorie word aanvaar. Op 10 April word besluit om ’n derde leraar te beroep aangesien die nuwe pastorie aan die begin van Augustus bewoonbaar sou wees.
Nou volg ’n tydperk waarin verskeie leraars vir die beroep as derde leraar van die Moeder-gemeente bedank. Uiteindelik is daar op 4 Desember ’n bespreking waaraan ’n hele aantal kerkraadslede deelneem. Daar word voorgestel dat ’n kommissie aangestel word om die gevoelens van die noordwestelike deel van die Gemeente te toets insake afstigting. Uit hulle verslag blyk dit dat van die nege wyke waarin 228 huisgesinne woon, 78% van die lidmate hulle ten gunste van afstigting verklaar, 13% neutraal staan en 9% daarteen gekant is. Die aanbeveling van die wyksverteenwoordigers is dus: “Aangesien ’n ruim aantal lidmate om afstigting vra, word aanbeveel dat die Kerkraad by die Ring aansoek doen om afstigting van die betrokke deel van die Gemeente wat vergesel sal word van die nodige waarborg.” Die vergade-ring verneem ook dat twee broeders van die gemeente aangebied het om die vereiste waar-borg van £500 vir 5 jaar te teken en dat aansoek om ’n aandeel in die pensioenfonds reeds gedoen is.

BRUIDSKAT
’n Kommissie word aangestel om die kwessie van die bruidskat te ondersoek. Met stemming is daar 46 stemme vir afstigting en 2 daarteen. Die volgende Kommissie word aangestel om alle aangeleenthede in verband met afstigting te ondersoek: brs. Klaas Malan, Hennie Bester, Chris du Toit, Koos le Roux, P. Joubert, J.R. van der Merwe (C/seun), D.J. van der Merwe, G.F. Lochner, T.F. Burger, A.W. Retief, Joubert Cillie, Kosie Louw, Hendrik Lochner en di. E.J. du Toit en J.G.S. van Jaarsveld.
Op 12 Maart 1957 besluit die Kerkraad eenparig op ’n bruidskat van £12 500, waarvan £10 000 oorbetaal sou word by afstigting en die res by die hoeksteenlegging.

GEMEENTEGRENSE
Die grense van die nuwe gemeente word soos volg in Die Kerkbode van 8 Mei 1957 gepubliseer:
“(a) Die gebied van die Gemeente Wellington-Noord lê noordwes van die volgende grens tussen Wellington en Wellington-Noord: beginnende aan die suidekant by ’n punt waar die spoorlyn die gemeentelike grens tussen die Paarl-gemeentes en Wellington sny, en dan ooswaarts met die spoorlyn tot by die oorweg aan die einde van Pentzstraat, Wellington; dan met Pentzstraat tot waar Pentzstraat en Markstraat kruis; vandaar met Markstraat tot waar Murraystraat regs uitdraai, en dan met Murraystraat tot waar dit doodloop in Jan van Riebeeckstraat, daarvandaan die suidwestelike en suidoostelike grense van die Laerskool Hugo Rust, vandaar beginnende al langs die grense van die Sendinginstituut tot aan die Bosmans-rivier. Aan die noordelike kant van die Bos-mansrivier langs die oostelike grens van Onver-wacht tot waar dit bokant Hexberggarage die Groenbergpad sny; vandaar met die Groen-bergpad tot by Driefontein en dan met die grense tussen Laboroux en Olifantskop, Vondeling en Nabygelegen tot vas aan die Groenberg.
“(b) Aan die ander kante van Wellington-Noord sal die bestaande grense van Wellington dié van Wellington-Noord wees.”

EERSTE KERKRAAD
Op 9 April 1957 deel die voorsitter, ds. Moolman, die Kerkraad mee dat die Rings-kommissie die kerkraadslede van Wellington-Noord benoem het en ook bepaal het wie vir een jaar en wie vir twee jaar moet dien. Die gekombineerde vergadering sal bestaan uit die benoemde kerkraadslede en die ou kerkraadslede wat in die Gemeente Wellington-Noord woonag-tig is. Die kerkraadslede vir een jaar sal wees:
OUDERLINGE: Hendrik Bester, Johan Hendrik Franken, Hendrik Jacobus Bester, Gerhardus Jacobus Visser. DIAKENS: Cornelius Johannes Carstens, Gabriel Johannes Malan, Willem My-burgh Serdyn, Hendrik Albertus van Niekerk, Pieter Francois Hugo Winterbach.
OUDERLINGE VIR TWEE JAAR: Hendrik Johannes Basson, Hendrik Jacobus Lochner, Charl Wynand Rossouw, David Barend van der Merwe, James Andrew van Schalkwyk
DIAKENS VIR TWEE JAAR: Hendrik Johan-nes Basson, Stephanus Christaan Dippenaar, Daniël Johannes le Roux, George Stephanus Malan.
Met die oog op die voorgenome vermeerdering van die wyke tot 4 plaaswyke en 8 dorpswyke, is die volgende bykomende kerkraadslede gekies:
OUDERLINGE: J.F. le Roux (Agter-Groenberg) vir twee jaar, D.J. van der Merwe (dorpswyk) een jaar.
DIAKENS: S.F. du Toit (Malanstasie) twee jaar, C.A. Hofmeyr (dorp) een jaar.
Op die eerste gekombineerde kerkraadsver-gadering op 13 Mei 1957 word ds. D.T. du P. Moolman as leraar beroep. Hy neem die beroep aan en op Sondag, 13 Julie in die Kerksaal van die Moedergemeente bevestig.
Aangesien daar ernstig met fondsinsame-lings begin moes word, word die eerste gemeen-tebasaar op 19 Junie 1957 gehou wat die bedrag van £1 068 oplewer.

DIE KERKGEBOU
Die offisiële besluit van die Kerkraad was om die kerk te bou op die oop terrein aan die voorkant van die Highfield woonhuis, aangren-send aan Oxfordstraat. Die Munisipaliteit, aan wie hierdie terrein behoort, het toegestem om ’n ewe groot deel van die kerkgrond benede die pastorie in ruil daarvoor te neem. Tot op 10 September is besware teen hierdie voorgenome ruiling by die Munisipaliteit ingewag, waarna die aangeleentheid met of sonder besware na die Administrateur vir sy beslissing verwys word.
Intussen was die Kerkraad en die Gemeente in eie geledere ernstig verdeeld oor waar die kerkgebou opgerig moet word. Meningsver-skille het soms diep geloop.
Die Boukommissie het ’n reeks besoeke aan nuutgeboude en ook ouer kerke afgelê, soos Vredelust, Bellville-Wes, Tygerberg, Sonnekus, Ceres, Wolseley, Worcester, Bonnievale, ens. Aangesien Worcester-Noord ’n besondere in-druk gemaak het, is daar besluit om die argitek, mnr. H. Sikkel van Pinelands te nader. Laasge-noemde het dan ook die Kerkraad op 27 Feb-ruarie 1957 besoek en volgens sy beraming sal dieselfde kerkgebou op die Kerkraad se grond £3 500 meer kos vanweë die skuinste van die terrein teenoor die koste as dit op die Highfield-eiendom opgerig word. Die vergadering het derhalwe ouderlinge H.J. Bester en D.J. van der Merwe benoem om laasgenoemde eiendom aan te koop.
Die tender van mnr. J.D.J. Brand van Worcester ten bedrae van £32 150 is aanvaar. Met die lening van £20 000 van die Sinodale kantoor in Kaapstad en die Gemeente se eie boufonds wat toe op £12 500 gestaan het, het die Kerkraad besluit om voort te gaan. Die tender van R. Müller & Kie. vir die orrel was £3 980 en van William Keay vir die horlosie en kerkklok was £1 166.
Fondsinamelingspogings het bv. ingesluit die verkoop van poskaarte met ’n skets van die beoogde gebou daarop. Ander bydraes was diaken Carstens wat die hoeksteen geskenk het, ’n ander lidmaat wat aangebied het om die kansel te maak, die Joodse gemeenskap wat die kerkklok geskenk het, die Volkspelelaer die doopvont, die KJV die gehoortoestel met ses gehoorbuise, mev. Buckle die horlosie binne die kerk en die handrelings by die buitenste trappies en mnr. en mev. H. Bester die blomstaanders. Die boufonds het ’n hupstoot gekry met die verkoop van die Stasieskool aan die Provinsiale Administrasie vir £1 700.
Die eerste sooispitseremonie is op Vrydag, 12 September 1958 deur die oudste moeder en vader in die Gemeente, die 95-jarige mev. H. Euvrard en die 85-jarige mnr. D. Hauptfleisch, waargeneem. Die hoeksteen is op 8 November deur ds. Moolman gelê.
Die laaste erediens van die Gemeente in die kerksaal van die Moedergemeente is op Sondag, 6 September 1958 gehou en die inwyding van die nuwe kerkgebou het op luisterryke wyse op Saterdag en Sondag, 12 en 13 September 1958 plaasgevind. Gedurende die naweek van fees-vieringe het o.a. die volgende plaasgevind:
SATERDAG
• 14:00 - Kerkklok lui die eerste keer
• 14:30 - Gemeente vergader voor die kerk-gebou
- Gebed deur ds. J. Ries
- Boukontrakteur oorhandig sleutel aan mev. Moolman
- Almal gaan die kerkgebou binne waar ’n hele reeks gebeurtenisse plaasvind. Die inwydingsrede word deur die leraar, ds. Moolman gehou.
SATERDAGAAND lê 34 nuwe lidmate bely-denis van geloof af.
SONDAGOGGEND word die doop bedien aan 5 kinders en preek prof. A.C. van Wyk.
SONDAGNAMIDDAG sit die Ring en die Gemeente saam oor die onderwerpe “Die gemeente, die liggaam van Christus”, “Die verhouding van die Heer tot sy gemeente” en “Die verhouding tussen die lidmate onderling”.
SONDAGAAND word die verrigtinge met ’n gewyde musiekuitvoering afgesluit: ’n orreluit-voering deur Chris Swanepoel, sangsolo's deur mnr. J. Arnold en koorsang deur die Opleidings-kollegekoor.
Maandag, 14 September het Die Burger soos volg oor die kerkgebou berig:
“Die kerkraad van Wellington-Noord wou ’n kerk in ’n taamlik konserwatiewe styl hê, sodat dit kan inpas in die historiese omgewing van die Wagenmakersvallei met sy Hugenote-tradisie. Hieraan het die argitek tot groot hoogte uitvoering gegee.
“Die agthoekige toring met sy brons spits kan uit alle rigtings van ver gesien word, aangesien die kerk op ’n hoë bult gebou is.
“Die geheelindruk van die gebou is sterk Goties. Hiertoe dra veral die vorm van die deure en vensters by. Die vensters is eenvoudig, maar baie treffend deur ’n Italiaanse firma met fyn steenwerk versier. ...
“Die ontwerpers van hierdie kerk het daarin geslaag om met eenvoud en beskeidenheid ’n atmosfeer van diepe gewydheid te skep...” Die berig het verder van die Gotiese boustyl binne die kerk, die loodglasvensters, die preekstoel, die doopvont, die deure, die uurwerk van die toring-horlosie en die konsistorie melding gemaak.

PREDIKANTE:
Ds. D.T. du P. Moolman (1957-1960)
Ds. A.M. Robertson (1961-1967)
Dr. W.C. van der Merwe (1968 - 1971)
Dr. D.A. du Toit (1971-1973)
Ds. C.F. Marais (1971-1975)
Dr. P. Bekker (1975-2004)
Ds. F.J. Human (2004-huidig)

Map of NG Kerk Wellington Noord - Wellington Noord Geloofsgemeenskap